“Dit is verby” Resensie

Vir alles is daar ‘n vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. Ook verhoudings het ’n vaste tyd. ’n Tyd wanneer dit begin en ’n tyd wanneer dit verby is. Soms is die einde van ’n verhouding pynlik onverwags en ander kere verbrokkel dit langsaam en is die einde onafwendbaar. Hierdie is my onthutsende, eerlike verhaal as ’n gewese predikant wat geleidelik besef het dat daar nog ’n vrou in my lewe was, en dat hierdie ander vrou oor die jare ’n geweldige invloed op my en my gesin gehad het. Haar rol sou ons lewens in ’n rigting stuur wat niemand van ons kon voorsien nie.

Dr Rudi Labuschagne vertel in Dit is verby, die verhaal van ’n dominee wat vir baie jare lank sy lewe en tyd vir die kerk opgeoffer het (want dit is mos wat mens doen as jy geroepe is, reg?), maar teen ’n geweldige prys. Wanneer die kerk as’t ware die derde persoon in ’n huwelik word, eis dit meer as sy pond vleis en laat dit jou en jou gesin met skuldgevoelens wat baie moeilik is om te verteer. Iewers gaan iemand verloor, en dit gaan waarskynlik nie die kerk wees nie.

Om die kerk en sy dogma te bevraagteken is op sigself ’n taai toffie, maar om heeltemal weg te draai van die kerk se waarheid, vat mannemoed. Dit is wat Labuschagne gedoen het. In dié boek vertel hy meer oor die pad wat hy gestap het van oorbetrokke dominee, na verligte, volkome mens wat kies om ’n nuwe roete, met liefde as rigtingwyser, in te slaan.

Dit is verby is ’n eerlike blik op die lewe van enigiemand wat in diens van die kerk staan – wat dit vereis en hoe dit jou lewe, veral as gesinsmens, kan beïnvloed. Hoewel krities en uitgesproke oor die kerk, is die boek geensins ’n verdagmakery oor Christenskap en geloof nie, maar ’n persoonlike reis van ’n man wat besluit het om sy hart, eerder as die kerk, te volg.

Labuschagne werk reeds aan ’n opvolgboek wat meer vertel oor sy lewe na die kerk en hoe sy hele uitkyk op menswees verander het.

Hou gerus Rudi Labuschagne se sosialemediabladsye dop vir meer inligting.

Nadine Petrick– Vryskutresensent

 

Dit is Verby is tans in die volgende formate beskikbaar:

Luister boek

Dit is Verby, is tans via die BiB toepassing as luister boek op enige selfoon beskikbaar en word voorgelees deur die bekroonde akteur Frank Oppermann. Vir meer inligting besoek www.drrudi.co.za

Elektroniese boek

Amazon -Kindle https://www.amazon.com/dp/B09X5R75JD/ref=sr_1_1?keywords=dit+is+verby&qid=1649145393&s=digital-text&sr=1-1

Draft2 Digital Link https://books2read.com/u/bQP2Pd